Showing posts with label poetry in Afrikaans. Show all posts
Showing posts with label poetry in Afrikaans. Show all posts

Wednesday, March 26, 2008

Afrikaans

Ek wil alles in Afrikaans doen.

Afrikaans my moedertaal:

my voertaal, my hart.

Ek wil liefhê in Afrikaans.

Ek wil droom in Afrikaans.

Ek wil eet, drink, sing in Afrikaans.

Ek wil lééf in Afrikaans.

Want dit leef in my.

Dit wriemel op my tong en kielie my verhemelte.

Dit sing in my ore en lag in my mond.

Dit karring aan my hartsnare en grawe in my kop.

Dit gee nooit op.

Afrikaans, mooiste taal –

gesels oor my gevoelens, my wese en bestaan.

Afrikaans, liefdestaal -

jy vertolk my.

Water en wyngedagtes 1

Jy vang my woorde met jou vingers

en bottel dit in jou oë,

dan sê jy vir my dat jy water is;

maar hoewel ek lief vir wyn is,

het ek water nodig om te leef.

Rooi soos Cabernet

bloei die wonde wat jy

in my hart

genadeloos met jou ystervingers

gegrou het.

Kom lê by my:

jou oë blou van die dou

en jou lyf vol van die son.

Hou my teen jou

sodat ek jou hart voel klop

teen die lentebloeisels

wat geil groei uit my hart.

Jou liggaam is ‘n vlakte

waarop ek duine skilder…

my hande hardloop speels

oor die blond van jou borskas,

en soek die dale van jou naeltjie

om rakelings te spring

na die spiere

wat styf span in jou arms.