Showing posts with label liefdesgedig. Show all posts
Showing posts with label liefdesgedig. Show all posts

Sunday, April 6, 2008

Vat af…

Vat af
en kom sit by my
hier in die sonkamer
reënkamer
van my hart.
Moenie gaan werk nie.
Moenie vassit in spitsverkeer nie,
en laat wees wanneer ek soek
na jou hande óm myne,
en jou hart klop-kloppend teen my bors.
Omvou my
met jou skaam glimlag
en die nagtegaal van jou asemhaling,
want ek mis jou
as die wolke grys is,
die son verslaap
en die dag saggies luister
na die wegkruip van my hart.

Lenteliefde

Ek hardloop deur die reën
na jou soekende oë,
jou roepende hande
en die warm somer van jou lag…

Koester my
in die lente van jou palms
- jy speel met my
met die herfs van jou oë.
Ek dink aan jou hande
en hoe jy sal vat
eendag as jy my liefkry
met die diepte van jou borskas
en die ruimtes van jou hart -
jou hart van kaneelsuiker.
Jy ruik na appels
en die liefde wat groei in my tuin,
en ek pluk graag die bloeisels
wat rol in jou hare;
die vrugte van jou hande
- soet en sag en mooi.

Jy is
die kleure van die reënboog,
die geure van die veld,
die smaak van heuning en appelliefies
varsgepluk
op ‘n lenteaand.